Joernalis - Kontrei Balie Nuus / Journalist - Country Balie News

Thursday, 5 October 2017

Al Ooit Gewonder Hoekom Gaap So Aansteeklik Is? Hier's Die Antwoord

Kim Abrahams.                                       14 September 2017

Jy word soggens wakker – en behalwe vir ’n gerek en strek en kreun en na jou wekker loer, is dit een van die eerste dinge wat jy doen.
Jou afspraak met ’n totale lamsak is al ’n uur aan die gang en jy moet behoorlik jou kakebeen teen mekaar dwing om te verhoed dat die teken van verveling uit jou mond ontsnap.

Gaap is so deel van die daaglikse lewe soos eet.

Maar wat dit boeiend maak, is dat ons dit instinktief doen die oomblik as iemand anders dit doen (soms is al wat nodig is die woord gaap of ’n foto van iemand wat gaap!)

Al ooit gewonder hoekom dit so is? Volgens navorsing is daar ’n paar redes:

•JY IS NIE ’N PSIGOPAAT NIE

Volgens ’n kleinskaalse studie deur navorsers by die Universiteit van Connecticut is gaap ’n teken van empatie.

Navorsers het ’n groep kinders bestudeer en gevind dat hulle eers die aansteeklike gegaap teen vier jaar ontwikkel. Empatiese vaardighede ontwikkel rondom hierdie ouderdom.

Hulle het ook ontdek jongmense met outisme – ’n toestand waar lyers sukkel om verhoudings te vorm – is minder geneig om te gaap as dié wat nie daaraan ly nie.

Meer uitgebreide navorsing is egter nodig om hierdie teorie te steun.

•JOU BREIN IS SO BEDRAAD OM DIT TE DOEN

Daar is in ’n studie deur die Universiteit van Essex in Engeland bevind daar is moontlik ’n verband tussen ’n aansteeklike gegaap en die mense se spieël-neuronstelsel.

Hierdie neurone veroorsaak dat die waarnemer navolg wat ander doen. Wanneer ons dus iemand sien gaap, word hierdie neurone gestimuleer, sodat ons naboots wat ons sien.

•JOU OUDERDOM SPEEL ’N ROL

Time berig hoe jonger jy is, hoe groter die kans dat jy sal gaap as iemand anders gaap.

Daar is ’n studie op 328 mense gedoen wat ’n video van drie minute gekyk het van mense wat gaap. Volgens die resultate het 82 persent van mense onder 25 agterna gegaap, terwyl slegs 41 persent van diegene ouer as 50 nageboots het wat hulle op die skerm gesien het.

Hoewel meer navorsing nodig is, sê outeurs mense is minder geneig om te gaap as ander gaap soos hul ouer word, omdat hulle minder aandag aan die gedrag van diegene om hulle skenk.

No comments:

Post a Comment